Van skooltreffers tot struikelblokke en breinkanker

12 Views

Die episode van ‘Net mens’ oor Jan Bloukaas begin waar hy ‘n gebed doen en ander seën.

Jean du Plessis, beter bekend as Jan Bloukaas, het reeds op hoërskool bekendheid verwerf met treffers soos Kaas elke dag en kykNET en chill. Teen 2018 het sy lewe en loopbaan goed op dreef was.

Maar in September 2022, op die ouderdom van 22, het hy sy aanhangers geskok toe hy op Instagram aankondig dat hy met breinkanker gediagnoseer is. Sedertdien het hy uitdagings en struikelblokke in die gesig gestaar. Nietemin was opgee nooit vir hom ‘n opsie nie.

Op 4 Desember om 20:00 kry kykNET-kykers ‘n intieme kykie in Jan Bloukaas se lewe in ’n spesiale aflewering van Net mens. Hierdie program gee bekendes die geleentheid om hulle harte oop te maak en ’n menslike kant van hulself te wys. Die reeks, vervaardig deur StraatkatMedia en aangebied deur Reyhardt Hugo, wys die rou en egte oomblikke van bekendes se lewens.

Kyk hier na die lokprent:

Jan Bloukaas se gebed van vergifnis roer hartsnare

Die episode oor Jan Bloukaas begin met ’n aangrypende oomblik waar hy, nou in ’n rolstoel, ‘n gebed doen. Daarin seën hy ander en vergewe diegene wat hom leed aangedoen het.

Die program sluit ook onderhoude in met vriende en kollegas uit die musiekbedryf. Musiekvervaardiger Deon Dee, wat steeds saam met Jan werk, vertel hoe hulle Jan se album Vreemdeling net voor sy eerste chemoterapie voltooi het.

Sangeres Janie Bay deel die storie agter hulle liedjie Sterre brand en skoolvriende vertel nostalgiese stories oor hul jeug saam met Jan.

Jan se laaste note?

Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties besoek hom ook, en die gesprek raak diep en draai om geloof. Jan speel vir Hunter van die liedjies op sy nuwe album – moontlik sy laaste.

Jan se ouers, Daan en Ronelle du Plessis, is van die belangrikste mense in sy lewe. Hulle deel hul ervaring vanaf die diagnose tot waar hulle hom nou versorg. Sy broers, Johan en Stephan, deel ook hul gevoelens oor hul jonger broer.

*Net mens: Jan Bloukaas word 4 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

LEES NOU: Karlien van Jaarsveld: ‘Ek sou alles weer presies dieselfde doen’

Exit mobile version